OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou van Bridgton, Oudtshoorn, wat haar kêrel met 'n stukkende bottel in sy nek gesteek en aan poging tot moord skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die 43-jarige Maureen Baartman het in 'n pleitverduideliking erken dat sy op 18 Junie verlede jaar vir Henry Solomons (32), met wie sy in 'n verhouding was, buite haar Wendyhuis in Steenboklaan, Bridgton, met 'n stukkende bottel in die nek gesteek het.
Sy het onskuldig gepleit op die hoofklag omdat sy nie bedoel het om hom dood te steek nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat dit wel Baartman se bedoeling was om moord te pleeg omdat sy spesiaal 'n bottel gaan haal het om Solomons mee te steek. Sy beserings was lewensgevaarlik en hy leef danksy die vinnige mediese behandeling wat hy ontvang het.
Solomons het getuig dat hy Baartman vergewe het en die saak wou terugtrek omdat hy moontlik self ook skuldig is. Hy het egter bygevoeg dat hy niks meer met haar te doen wil hê nie.
Baartman is ingevolge Art 276 (1) (i) van die strafproseswet tot vyf jaar tronkstraf gevonnis en ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla en Baartman bly in aanhouding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’