Gallery
OUDTSHOORN NUUS - "Dit wil soms voorkom asof wintermaande genadeloos met die wat minder het omgaan."
So het Jeanette Lombaard van Voorbaat, Ladismith, gesê na sy verlede Donderdag haar man, en meeste van hul besittings in 'n brand by haar huis verloor het.
FOTOGALERY: Vrou verloor alles
Sy en haar man, Gert, het glo 'n vuur buite die huis gemaak vir 'n bietjie hitte teen die koue. Haar man het in die vuur geval en die brand het na hul huis versprei.
Omdat hulle 30 km van die dorp af woon en geen telefoon het nie kon sy eers die volgende dag 'n plan maak om nooddienste te ontbied en mediese behandeling vir haar man te kry. Sy het net 'n halwe potjie Vaseline in haar huis gehad en het probeer om haar man se wonde met dit te behandel.
Hy is by die plaaslike hospitaal behandel en later na George-hospitaal oorgeplaas waar hy aan sy beserings beswyk het.
Anna-Marie Andonis, 'n kaptein verbonde aan die Ladismith-polisie en speurhoof van Ladismith het aan Oudtshoorn Courant gesê dat 'n speurder, ao. Clinton Crawley, die saak ondersoek het.
"Hy het my van die storie vertel. Omdat mense se welstand my baie na aan die hart lê het ek besluit dat die tannie regtig ondersteuning nodig het.
Ons was so 'n paar mense wat gaan kyk het wat daar aangaan.
"Met ons aankoms was ons almal se harte geruk. Haar omstandighede is net eenvoudig tragies. Haar huis het nie vensters nie en daar is net 'n sinkplaat waar die ingang is.
"Dit is vervalle. Sy en die oom was jare bymekaar gewees. Al wat sy vir my kon sê was dat sy haar maatjie mis. Dit was deur die jare net hulle gewees."
Volgens haar het hulle 'n slagofferonder-steuningsprogram en het hulle van dit 'n projek gemaak.
"Die hele stasie, sowel as stasiebevel-voerder lt.kol Pauline Kriel, het bygedra. Ons het kos en komberse vir die tannie ingesamel en dit vir haar geneem, maar het besluit om haar huis 'n Madibadag-projek te maak. Ons nooi mense wat huisraad, komberse of kombuisware, eintlik enigiets wil skenk, om dit by die polisiestasie af te gee."
Adonis sê indien daar iemand is wat wil help om die huis reg te maak, of enigiets anders wil skenk, hulle haar by 082 778 7243 of ao. Jan Cederas of Joann Buys by 028 551 8106 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’