OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou van Limpopo wat op 28 Julie verlede jaar in die Oudtshoorn-streekhof 16 jaar tronkstraf vir dwelmhandel opgelê is, was suksesvol met haar appél in die Kaapse hooggeregshof en haar vonnis is drasties verminder.
Regter Judith Cloete het op 8 September uitspraak gelewer in die appélaansoek van die 30-jarige Minkana Elizabeth Makgoba, 'n ma van drie minderjarige kinders, en gesê die saak was deurtrek met onreëlmatighede wat gelei het tot 'n "miskenning van die reg".
Makgoba se vonnis van 16 jaar is verminder na tien jaar, waarvan agt jaar en een maand opgeskort is en sy op die dag van die uitspraak, na die uitdiening van meer as 'n jaar van haar vonnis, vrygelaat moes word.
Die regter het ook die landdros se bevinding dat die kinders uit haar sorg verwyder word, ter syde gestel.
Volgens die regter het die hof op Oudtshoorn nie as 'n kinderhof gesit nie en die landdros was nie geregtig om die bevel te maak om die kinders te verwyder nie.
Makgaba is op 24 September 2020 tydens 'n padblokkade op die N2 buite Beaufort-Wes in hegtenis geneem nadat die polisie 7 215 Mandrax tablette met 'n straatwaarde van sowat R360 750 in haar besit gevind het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’