OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n vrou van De Rust wat 'n man met 'n lang kombuismes doodgesteek het omdat hy glo haar ma uitgeskel het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere getuienis tot einde Julie uitgestel.
Die 24-jarige Davedine Pietersen pleit onskuldig op die aanklag van moord, maar skuldig op 'n alternatiewe klag van strafbare manslag.
Sy het Heinrich (Heini) Sauls (34) op Kersoggend 2016 in die bors gesteek en hy is aan die wond oorlede.
Pietersen erken dat sy Sauls gesteek het, maar dat sy nie bedoel het om hom dood te maak nie. Volgens haar het die oorledene met haar broer, Jaco Sass, gestoei toe sy hom gesteek het.
"Heini het my broer, Jaco Sass, in 'n greep gehad en dit het gelyk asof hy nie asem kry nie. Ek het toe met die mes na sy arm gesteek sodat hy my broer kon los." Volgens Pietersen het sy Sauls die oggend langs die pad gekry. 'n Woordewisseling het tussen hulle ontstaan waarna Sauls haar op die grond gegooi en getrap het.
"Ek was kwaad en verneder en is huis toe om my ouers te gaan vertel omdat ek nie Heini so ken nie."
Haar ouers was egter nie tuis nie en toe sy besluit om Sauls te gaan konfronteer. Sy het, ten spyte daarvan dat haar suster haar wou keer, die mes van sowat 30 cm geneem en in haar broekspyp versteek.
Sauls was by die woning van een van sy vriende en Pietersen het Sauls gevra om uit te kom.
"Ek het vir hom gesê hy is mos 'n vroueslaner," het sy getuig.
Die vriend het getuig dat hy die oorledene versoek het om sy huis te verlaat nadat Pietersen gedreig het om sy huis "op te smash". Die oorledene is uit en waar die vriend in sy deur gestaan het, het hy gesien hoe Pietersen die mes uithaal en sal steek. Toe sy 'n tweede keer wou steek het iemand haar van agter gekeer. Die staatsaanklaer, Willem Vister, het dit aan Pietersen gestel dat sy haar weergawe aanpas en leuens vertel. Sy is met die mes na Sauls se huis om hom seer te maak.
Op 'n vraag van die landdros waarom sy met so 'n lang mes na die oorledene gegaan het, was haar antwoord dat sy nie na 'n spesifieke wapen gesoek het nie.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak vir die getuienis van Sass, tot 31 Julie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'