OUDTSHOORN - 'n 60-jarige vrou van Smartie Town, Christien Kiewiets (60), is dood en haar saamleefmaat, Julie Fredricks (61), is ernstig beseer, na die opslaanhut waarin hulle gewoon het, afgebrand het.
Volgens raadslid Abraham Tiemie, was hulle bure.
"Ons het Sondag so na 00:00 wakker geskrik toe het dit al gebrand. Ons het almal opgespring om te help."
Volgens Tiemie het die matras waarop Kiewiets en Fredricks geslaap het vermoedelik aan die brand geraak toe 'n olielamp omgeval het.
"Die man het met die matras uitgehardloop en Christien is agterna. Sy het egter weer omgedraai om haar handsak met hul belangrike dokumente te gaan haal toe die deur agter haar toegegaan het."
Kiewiets is deur die vlamme verswelg en kon nie gered word nie.
"Dit is 'n tragiese, skokkende voorval. Niemand verdien om so te sterf," het Tiemie gesê.
Intussen het Louisa Fredricks, Julie se suster, Dinsdag aan Oudtshoorn Courant gesê dat hulle lank op die erf gewoon het.
"Die dokter het gebel en gesê ons moet bid. My broer het baie seergekry."
Hy is tans in die intensiewe sorgeenheid in die George-hospitaal. Die familie is nie seker wat die aard van sy beserings is nie, behalwe dat dit ernstig is.
Kiewiets se susterskind, Jacky, sê dat hulle baie hartseer is oor haar dood.
"Ons soek na haar dogter, Geraldine Kiewiets. Dit is haar enigste dogter. Sy het in 2019 in die Kaap gaan werk en twee kinders agtergelaat. Ons het sedertdien nog nooit weer van haar gehoor nie en ons kan nie eens vir haar sê haar ma is oorlede nie."
Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
'n Navraag is aan die polisie gestuur, maar geen antwoord is teen druktyd ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’