OUDTSHOORN NUUS - ‘n Vrou van Bridgton, Oudtshoorn, wat haar kêrel met ‘n stukkende bottel in sy nek gesteek het, is Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof aan poging tot moord skuldig bevind.
Maureen Baartman (43) het in ‘n pleitverduideliking erken dat sy op 18 Junie verlede jaar vir Henry Solomons (32) met wie sy in ’n verhouding was, buite haar Wendy-huis in Steenboklaan, Bridgton, met ‘n stukkende bottel in die nek gesteek het.
Sy het egter onskuldig gepleit op die hoofklag van poging tot moord omdat sy nie bedoel het om hom dood te steek nie.
Solomons het getuig dat hy en Baartman die betrokke oggend soos gewoonlik weer saamgedrink en later begin stry het.
Sy het later ‘n bottel gaan haal, dit stukkend gekap en hom daarmee in sy nek gesteek. Hy het haar vergewe, maar gesê sy moet verstaan dat sy nie meer deel van sy lewe is nie. Hy het erken dat hy dalk ook in ‘n mate verantwoordelik was vir wat gebeur het.
Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat dit wel Baartman se doel was om moord te pleeg omdat sy spesiaal ‘n bottel gaan haal het om Solomons daarmee te steek.
Solomons se besering was volgens ‘n mediese verslag lewensgevaarlik en hy kon gesterf het indien hy nie onmiddellik mediese hulp gekry het nie. Hy was egter ‘n baie eerlike getuie.
Die hof het die saak vir vonnisverrigtinge tot 9 Oktober uitgestel nadat die verdediging vir korrektiewe- en proefbeampte verslae gevra het. Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla en Baartman bly in aanhouding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’