OUDTSHOORN NUUS - Dat sy kan loop, is vir Monique Titus (29) 'n wonderwerk, want in 2008 na 'n motorongeluk was die diagnose finaal: Jy sal die res van jou lewe aan 'n rolstoel gekluister wees.
Die woorde bokant haar hospitaalbed was verdoemend: "C7 Complete". Sy sou nooit weer loop nie.
Die besering aan haar sewende rugwerwel was só erg dat haar brein geen boodskappe na enige deel van haar liggaam onder dié werwel kon dra nie, het medici gesê.
So vertel dié administratiewe beampte by die Prins Albert provinsiale hospitaal oor die vol lewe wat sy deesdae lei. Kyk mens vandag na dié aantreklike vrou, het sy die voor die hand liggende gevolg van die ongeluk verkeerd bewys. Tog het 'n radiografis wat onlangs X-strale van haar rugmurg geneem het, gesê: "Jou rugmurg is af. C7 is heeltemal uit sy plek."
Totale afhanklikheid was nooit vir haar 'n opsie nie, vertel Monique oor haar herstelpad sedert die ongeluk op 28 November 2008 net buite Prins Albert wat die lewe van haar pa, Daniël, geëis het. "Die kar het gerol.
Ek, my ma, Marentia, my tannie, Brendaline Pretorius, en my neef, Dante Pretorius, het dit oorleef. Ek is oorgeplaas George toe, en daarvandaan na Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. Dit was in die hoësorgeenheid dat ek in kennis gestel is dat ek verlam is.
Monique is daarna na die Wes-Kaapse rehabilitasie-sentrum by die Lentegeur-hospitaal in Mitchells Plain oorgeplaas. "Ek het bly glo die Here sal my nie los nie. My hele lewe het dan voor my gelê!
"Ek het 'n rolstoel wel eers vir langer afstande gebruik, maar toe begin om myself met krukke vorentoe te sleep. My wilskrag was so sterk soos my geloof."
In Mei 2009 is sy uit die hospitaal ontslaan en is dadelik terug skool toe. Sy het matriek aan die Hoërskool Breërivier op Worcester geslaag.
In 2010 is sy terug Prins Albert toe, waar sy gereeld sessies by 'n plaaslike fisioterapeut, Sandy Bower, bygewoon het. "Ek het al hoe beter met die krukke gevaar – ek het dikwels geval, maar altyd weer opgestaan." Sy en haar lewensmaat, Willem Hendriks, het intussen 'n seuntjie, Willreeq (7), ryker geword.
In 2018 ontwikkel Monique pyn in haar nek. 'n Radiografis van Beaufort-Wes het X-strale geneem. "Sy het dit een kyk gegee en gevra: 'Hoe's dit moontlik dat jy loop?' Sy het verduidelik die X-strale wys die besering op C7 is só erg, ek moet verlam wees. Sy wou weet of ek besef my rug is gebreek."
Monique sê het geen antwoord hierop nie. "Ek gebruik geen chroniese medisyne nie; dra net soms 'n kniestut." Vir haar bly die mooiste woorde ooit dié van die fisioterapeut: "Jy's 'n lopende wonderwerk."
Kommentaar van dr. Nicholas Kruger, ortopediese spinale chirurg en hoof van die akute rugmurgbeseringseenheid van Groote Schuur-hospitaal: "C7 complete" verwys na 'n rugmurgbesering wat beteken geen bewegingsfunksie onder dié werwel is moontlik nie: die pasiënt sal dus 'n kwadrupleeg wees.
In sowat 1% van gevalle kan 'n pasiënt met 'n rugmurgbesering gesond word: Dit word gewoonlik toegeskryf daaraan dat die besering aanvanklik as "complete" gediagnoseer is, terwyl daar steeds 'n mate van senufunksie onder die besering is. Dan is die potensiaal om te genees baie groter. Ek sou graag Monique se X-strale self wou bekyk, want ek wil seker maak haar neurologiese herstel word nie deur spinale onstabiliteit belemmer nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'