OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou van Zoar is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof tronkstraf van 12 jaar opgelê vir 'n moord wat sy tien jaar gelede gepleeg het.
Zoeney Remona Jaftha (37) het op 4 Maart 2012 na die woning van haar vriend se voormalige meisie, Naomi Willemse, gegaan en haar op die bed waar sy gelê en slaap het, nege keer met ‘n mes gesteek.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dat Jaftha die wreedste moord gepleeg het en dit onvanpas sal wees om enige ander vonnis as direkte gevangenisstraf op te lê.
Boks het benadruk dat Jaftha na die moord steeds met haar lewe voortgegaan en ook nog kinders gekry het, terwyl
háár kinders steeds ‘n ma het, is dit nie die kinders van die oorledene beskore nie.
"Dit is soms pynlik vir die hof om ‘n vonnis op te lê en dit is dikwels die familie van die beskuldigde wat die swaarste gestraf word. Die hof kan egter nie skroom om swaar vonnisse vir ernstige misdade op te lê nie. Die hof kry die beskuldigde sowel as haar kinders en familie jammer, maar dit is nie ‘n rede om ‘n ligte vonnis op te lê nie,” het Boks gesê.
Die hof het wel bevind dat wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die minimum vonnis van vyftien jaar af te wyk, maar dat die beskuldigde steeds ‘n swaar vonnis opgelê moet word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'