Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Vrou wat glo op die besige pad tussen Oudtshoorn en George geloop het, het 'n noue ontkoming vir 'n gesin van vier van Oudtshoorn tot gevolg gehad.
Volgens die bestuurder van 'n VW Polo het hy oor 'n bult gekom en besef 'n aantal motors het in die pad gestop vir 'n vrou wat blykbaar in die middel van die pad geloop het.
"Ek kon nie eers tyd kry vir stop nie, ek moes net uitswaai om die karre en die vrou te mis en toe is ons van die pad af," het hy op die toneel gesê. Die motor het omgeslaan en in 'n sloot weer op die wiele te lande gekom.
Die man se dogter is lig beseer en per ambulans hospitaal toe geneem. Die ander insittendes is ongedeerd. Die vrou wat in die pad was het die hasepad gekies en woon glo in een van die nabygeleë werkershuise op 'n plaas. Die ongeluk het naby die afdraaipad na Klipdrift en Zebra gebeur.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'