OUDTSHOORN NUUS - 'n Versoek van die staat om 'n opgeskorte vonnis van 'n vrou van Oudtshoorn wat aan diefstal skuldig bevind is, in werking te stel is in die landdroshof geweier omdat die hof van mening is dat dit 'n buitengewone saak is.
Monique Foley (41) is op 26 Januarie vanjaar 'n opgeskorte vonnis van drie jaar opgelê vir die diefstal van R77 000 van Kannaland Mediese Kliniek terwyl sy in diens was van 'n rekenmeestersfirma wat die kliniek se finansies behartig het.
Sy het die geld oor 'n tydperk in haar eie rekening oorgeplaas en ook sommige van haar eie rekeninge vanuit die kliniek se rekening betaal. Die hof het toe 'n bevel gemaak dat sy die geld in 77 maandelikse paaiemente van R1 000 elk moet terug-betaal.
Landdros Vaughn Shone het beklemtoon dat voorwaardes vir opgeskorte vonnisse streng nagevolg moet word, maar Foley se verduideliking dat sy haar nuwe werk verloor en gevolglik agter geraak het met die terugbetalings, aanvaar.
Sy kon met haar verskyning voorverlede week R2 000 betaal en is gewaarsku om voortaan te hou by die hofbevel van 'n R1 000 per maand.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'