OUDTSHOORN NUUS - Die vriendelike man van Kandelaarsrivier, wat vir glimlagte op veral vragmotorbestuurders se gesigte gesorg het, se wuif is weg. Hy het verlede Saterdag sy eie lewe geneem.
Een van die vragmotorbestuurders wat gereeld by die vervalle huisie langs die hoofpad op pad Mosselbaai toe verbygery het, het op sy Facebook-blad hulde gebring aan die man wat alleen saam met sy hond daar gewoon het.
Gerhard le Roux skryf dat die oom elke dag of op sy stoep gesit het, of langs die huis met sy hond gespeel het en elke trok wat verbyry gegroet het.
"Elke keer wat ons daar verbygery het, het hy met 'n smile op sy gesig gewaai. Donderdag was die laaste keer wat ek vir hom hooter gedruk het en Saterdag het hy besluit die lewe is te veel. Sy deur het altyd oopgestaan, winter of somer."
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, was die man die 60-jarige GJJ Swanepoel. Visser sê die polisie is op Saterdag 22 Februarie om 13:29 ontbied.
Die oorledene se liggaam is aan 'n tou aan 'n boom gevind. Hy is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Geen gemene spel word vermoed nie.
Op sy Facebook-blad skryf Le Roux, "...ons almal wat vir hom gehoot het, sal sy vriendelike groet mis al ken ons nie eens sy naam nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'