Die perseel is in Bongolethu langs die volstruisslaghuis geleë en volgens Carin le Roux, maatskaplike werker by APD, word die projek in twee fases verdeel.
"Die eerste fase behels die oprig van die werkswinkel wat daagliks 47 gestremdes in hand- en lewensvaardighede opleiding gee. Die volstruiskrale wat by die werkswinkel gemaak word, word uitgevoer aan besighede van oor die land," het sy gesê.
Le Roux sê die werkswinkel sal voltooi word met die geld wat beskikbaar is.
Die Sonskyn-dagsorgsentrum gaan in fase twee gebou word, maar sal slegs gedeeltelik voltooi kan word omdat daar nie genoeg geld beskikbaar is om die projek klaar te maak nie.
Le Roux sê dat die dagsorgsentrum die enigste dagsorgsentrum in die Klein Karoo gaan wees wat erg gestremde kinders tussen die ouderdomme van twee tot 19 jaar oud deur die dag sal huisves. Hier sal 'n program vir hulle aangebied word om hulle met lewensvaardighede te help en die kinders sal ook kos kry.
APD gaan die dienste vanaf De Rust, Dysselsdorp, Oudtshoorn, Calitzdorp, Volmoed en Schoemanshoek lewer, sowel as aan die omliggende plaasgemeenskappe en die volwassenes sowel as die kinders word daagliks by hul huise opgelaai en later weer na hul huise teruggeneem.
"Dit is vir ons 'n groot voorreg om 'n verskil in gestremdes se lewe te kan maak en met die opgeleide personeel en die hulp van vrywilligers weet ons ons gaan nog baie lewens aanraak."

Personeel en vrywilligers van APD is opgewonde oor die geboue wat by hul nuwe perseel opgerig word.
ARTIKEL EN FOTO: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'