Sekerheidsbeamptes van Kompas Sekuriteit het net na 05:00 Sondagoggend gesien dat daar rook uit die bale op 'n vragmotor trek.
Die bale het binne minute in vlamme uitgebars en daar is gevrees dat 'n vragmotor van Jonckies Vervoer wat teenaan die brandende vragmotor geparkeer was ook aan die brand kon slaan. Terwyl die beamptes probeer het om die vlamme te blus is die brandweer en vragmotoreienaars in kennis gestel van die brand.
Cornel van Rensburg aan wie die brandende vragmotor behoort vertel dat die eienaar van Jonckies Vervoer hom ongeveer halfses gebel het en laat weet het dat die vrag brand. Volgens hom kan voerbale spontaan aan die brand slaan as daar dalk 'n nat baal is wat deur ontbinding geweldige hitte kan opbou. Van Rensburg boer op die plaas Jolata sowat 16 kilometer buite die dorp en het juis die vragmotor met die vrag by Landmark laat oornag om die onnodige kostes van heen en weer ryery te voorkom.
"Parkeerplek vir vragmotors is 'n groot probleem op die dorp en ons parkeer almal ons trokke vir die nag op die oop stuk grond, want daar is geen ander plek nie."
Die brandweer, lede van die publiek en drie van Kompas Sekuriteit se beamptes het gespook om die smeulende vrag te blus en die brandweerwaens moes 'n paar keer met water hervul word. Van Rensburg het inderhaas 'n meganiese laaigraaf gereël wat die brandende vrag van die vragmotor se bak kon afstoot.
Die groot sleepwa waarop die tweede deel van die vrag gelaai was kon egter nie geskuif word nie aangesien die rempype en bedrading afgebrand het. Daar is egter voorkom dat die vrag ook aan die brand slaan. Van Rensburg het gereël dat die uitgebrande bale later die dag van die terrein verwyder word. "Ons wil regtig 'n ernstige beroep op die munisipaliteit doen om die pro-bleem van vragmotoreienaars te erken en aan te spreek. Ons dra baie by tot die ekonomie van die dorp, maar daar is geen geriewe vir plaaslike en verbygaande vragmotors nie."
Drie sekerheidsbeamptes van Kompas Sekuriteit was op die toneel tydens die brand en het hand bygesit om die vuur te blus. Van links is: Jacques Terblanche, Richard Gustafson en Werner Pottas.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'