LADISMITH NUUS - Die Ladismith-polisie het Sondag die 34-jarige Oryan Roberts van die Dwarsrivier buite Ladismith in hegtenis geneem.
'n Facebook-inskrywing oor Roberts is 'n paar weke gelede op sosiale media gedeel waarin daar beweer word dat hy ''n skrikbewind tussen die mense by Dwarsrivier voer en boere met die dood dreig'.
Volgens ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, was Roberts wel 'n voortvlugtige, maar het nie boere gedreig nie en het ook nie 'n skrikbewind gevoer nie.
Die polisielede het op Dinsdag 14 November met 'n soektog na die man begin.
"Die gebied in Dankoord is gefynkam. Hy is opgespoor in die veld waar hy homself in 'n verlate huis tuisgemaak het.
"Die polisie het 'n hele aantal goedere by hom gekry.
"Die vermoede is dat dit gesteelde items is.
"Van die gesteelde goed is 'n verkyker, 'n gasstoof, potte, kampstoele, komberse, 'n radio, 'n kasetspeler en 'n gereedskapboks."
Roberts is in hegtenis geneem omdat hy nie sy paroolvoorwaardes nagekom het nie.
"Hy staar ook klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer en die besit van gesteelde eiendom in die gesig."
Cederas het bygevoeg dat die gemeenskapspolisiëringsforum van Zoar die polisie tydens hul vergadering geloof het dat hulle Roberts gevang het.
Die Facebook-inskrywing wat 'n paar weke gelede op sosiale media gedeel is.
"Die waarnemende stasiebevelvoerder, kapt. Henry Edwardes, het die polisielede geloof vir hulle vasberadenheid om die booswig aan te keer.
"Die soektog was in reën en warm toestande gedoen."
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'