OUDTSHOORN NUUS - Verskillende voorskoolsentrums op Oudtshoorn het verlede Donderdagoggend 'n protesaksie by Bridgton UCC se sirkel gehou.
Hiermee het hulle hul misnoeë te kenne gegee met die regering se besluit om nie genoegsame fondse vir kleuterskole gedurende die inperking beskikbaar te stel nie.
Volgens die koördineerder van die groep, Saartjie Suman, beoog die minister van maatskaplike dienste, Lindiwe Zulu, om fondse van R1,3 biljoen te allokeer vir die aanskaffing van oorhoofse projektors by kleuterskole.
Suman is van mening dat hierdie fondse eerder gebruik kan word vir die beskerming van kleuterskoolopvoeders se salarisse.
"Vandat die regering die nasionale inperkingsmaatreëls in Maart aangekondig het is kleuterskole op Oudtshoorn reeds gesluit. Nêrens in die staatskoerante word daar eers melding gemaak van ons lot nie. Die subsidie wat ons tans ontvang is skaars genoeg om ons opvoeders maandeliks te onderhou. Plus die feit dat ouers ook nie soos vroeër hul maandelikse fooie vir hul kleuters betaal nie, vererger die situasie," het sy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'