OUDTSHOORN NUUS - Agri Wes-Kaap het verlede Donderdag tydens hulle aanlyn jaarkongres nuwe lede tot hul bestuur verkies.
'n Bekende volstruisboer van Oudtshoorn, Laubscher Coetzee, is tydens dié kongres as ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap se algemene sakekamer verkies.
Villiers Loubser, 'n graanprodusent by Durbanville, is Agri Wes-Kaap se nuwe president. Hy volg Cornie Swart op, wat sedert 2011 as president gedien het. Heinie du Toit, 'n vrugteprodusent by Ceres in die Koue Bokkeveld, is die nuwe visepresident. Hy het sedert 2015 as Agri Wes-Kaap se bestuurslid vir die Witzenberg-streek gedien.
Liam Viljoen, 'n graan- en wynprodusent van Malmesbury is as voorsitter van Agri Wes-Kaap se algemene sakekamer verkies.
Swart het gesê hy is opgewonde om die leisels aan 'n relatiewe jong span te oorhandig.
"Julle neem 'n sterk en vooruitstrewende organisasie oor en ek is trots en gerus oor die hande wat nou die leisels gaan vashou. Ek weet julle verstaan die hart van die landbou en ek wens julle alle voorspoed toe," het Swart gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'