Die afgelope finansiële jaar het Klein Karoo International (KKI) en Klein Karoo Beperk (KKB) besonder goed presteer. “Hierdie is ‘n lekker algemene jaarvergadering, want dit was ‘n rekordjaar vir almal,” het Johan Stumf, besturende direkteur van Klein Karoo International tydens die algemene jaarvergadering op Vrydag 14 November gesê. Die KKB-groep se netto wins na belasting het met R33,7 miljoen na R58,2 miljoen verbeter.
Klein Karoo Internasionaal
Die KKI-groep se omset het met R129,2 miljoen tot R704,8 miljoen toegeneem. Leer se omset het met R115,2 miljoen toegeneem, vleis met R16,4 miljoen, en vere het dieselfde omset as in 2013 vertoon.
Al het die getal volstruise wat geslag word sedert 2011 met 50% verminder, het produsente vanjaar 34% meer vir hul volstruise ontvang - ‘n rekordprys van R4 104, vergeleke R3 061 in 2013.
Die verbod op uitvoer van vars vleis as gevolg van Avian Influenza (AI) is steeds in plek, en alhoewel die uitvoer van hitte-behandelde (gebraaide) volstruisvleis stadig maar seker vorder, is dit reeds in vyf van die grootste kleinhandelaars in Europa beskikbaar.
Swart Ekonomiese Bemagtiging
KKI se swart ekonomiese bemagtigingsprojekte in Peddie, De Aar en Koffiefontein het ‘n uitstekende jaar gehad en KKI slag ongeveer 3500 volstruise – sowat 5% van die totale slagtings. Die projekte word bestuur deur die Klein Karoo Group Transformation Trust.
Klein Karoo Saadproduksie
Klein Karoo Saadproduksie het die mees suksesvolle finansiële jaar ooit beleef. Die omset is met 30% verhoog, en die wins van die vorige jaar is meer as verdubbel. Uitbetalings aan produsente het met meer as 54% toegeneem.
Klein Karoo Beperk
Klein Karoo Meganisasie het ‘n omset van R47,3 miljoen behaal, wat ‘n groei van 45% toon. “Die grondslag van die afdeling se sukses lê in die uitstekende kliëntediens en ons lede en kliënte se lojaliteit,” het Stumpf gesê.
Klein Karoo Handel en Dienste (H&D) het ‘n omset van R391,4 miljoen behaal, vergeleke 2013 se R269,7 miljoen. Die afdeling bedryf vyf winkels en twee vulstasies wat ‘n groei in omset van R107 miljoen (45%) getoon het. Die toevoeging van die Engen-vulstasie in die dorp het 19% hiervan bygedra.
Die moontlikheid word ook ondersoek om ‘n winkelsentrum op KKI se perseel by die hoofkantoor in Koöperasiestraat te bou.
Prestasie
Jurie Klue van Avondrust Boerdery het die beste gevaar as volstruisprodusent. Hy het nie net trofeë vir hoogste gemiddelde realisasie per slagvoël (meer as 1 000 volstruise) en die hoogste persentasie 1ste graad velle gelewer (meer as 500 volstruise) nie, maar ook die gesogte trofee vir die beste algehele prestasie in vleis, velle en vere (meer as 500 volstruise).
Ander presteerders was:
- Hoogste gemiddelde realisasie per slagvoël (501-1 000 volstruise): Henkie du Plessis van CG & HT du Plessis Edms Bpk;
- Hoogste gemiddelde realisasie per slagvoël (201-500 volstruise): Kobus Human van Eerstebos Boerdery;
- Hoogste gemiddelde realisasie per slagvoël (50-200 volstruise): Gerrie Mathee van Gerrie Mathee Familie Trust;
- Beste lot top slagvoël vere-lewering (meer as 500 volstruise): Andries Duminy van Samona Boerdery; en
- Beste lot top broeivoël verelewering (meer as 500 volstruise): Kobus Terblanche van PJ Terblanche & Seun.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'