Die Volliekoor onder leiding van Ivan le Kay het met hul pragsang vermaak gebied.
SUID-KAAP NUUS - Die 19de reünie van oudstudente van die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland op Oudtshoorn, wat onlangs op Mosselbaai plaasgevind het, was weer eens goed bygewoon en 'n reusesukses. Meer as 300 Vollies het die reünie bygewoon.
Vader Hennie Petersen, medeleraar van die Holy Nativity Anglikaanse Kerk en ook 'n Vollie, het tydens Sondag se gedenkdiens in sy boodskap oor diensbaarheid 'n pleidooi tot die Vollies gemak om aan te hou diensbaar wees en getrou te bly aan die kollege se leuse Pro Bono Publico wat beteken tot voordeel van die gemeenskap.
Volgens Petersen is oudstudente van die kollege vandag burgemeesters, sportleiers, kerkleiers, kultuurleiers, politieke leiers en ook onderwyskundiges. "Ware leiers is diegene wat ander bo hulself stel. So laat ons dan terwyl ons die geleentheid het aan almal goed doen."
Tydens die diens is 'n kers aangesteek en 'n krans gelê ter nagedagtenis aan Vollies wat sedert verlede jaar se reünie in Worcester oorlede is. Die lang lys name is deur die president van die Vollies, Santa Domburg, voorgelees.
Die naweek se verrigtinge het op Vrydag, 30 September met 'n verwelkomingsfunksie in die Walvissaal op Hartenbos begin. Saterdag is Mosselbaai se besienswaardighede besoek, 'n groot visbraai gehou en die dag is afgesluit met 'n langarmdans waartydens die musiek deur Strand Combo verskaf is.
Tydens Sondagaand se spogdinee in die stadsaal het verskeie sprekers opgetree onder wie die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Harry Levendal en die president van die SWD Arende, Hennie Baartman, ook albei Vollies. Die Onderwyskollege Suid-Kaapland het sy deure in 1952 as die Bridgton Kleurling Onderwyskollege in 'n anneks van die De Villiers Primêre Skool in Bridgton oopgemaak met mnr LN van der Merwe as eerste rektor.
Dit het later na 'n houtgebou, vandag Protea Primêr, verskuif en in 1966 na 'n nuwe gebou in Springbokweg, vandag die Aurial Kollege. Die skool gebruik net die klaskamers en die koshuis, wat destyds as "Die Skip" bekend gestaan het, het in onbruik verval. Pogings word tans aangewend om dit op te knap. Die kollege was ryk aan tradisie en studente kon eers in hul tweede studiejaar die kollege se kleurbaadjie (die "lap") aantrek en in hul derde jaar 'n blou kleurbaadjie, bekend as die "kleed".
Die rugbyveld het bekend gestaan as die "rasper" omdat dit 'n veld sonder gras was. Mnr Lionel Tait was die laaste rektor van die kollege van 1983 tot die sluiting in 1996. Die eerste reunie is in 1998 op Oudtshoorn toe slegs 14 Vollies dit bygewoon het.
Daarna is reünies op Calvinia, Port Elizabeth, Worcester, Mosselbaai, Saldanhabaai, Oos-Londen, Upington. Graaff-Reinet, Queenstown, Paarl, Springbok, Kimberley en George gehou. Volgende jaar se reünie sal in Namibië gehou word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'