OUDTSHOORN NUUS - Hulde is Sondag tydens die 90ste verjaarsdagdiens van die Volkskerk van Afrika Oudtshoorn gebring aan die stigters en alle oudleraars van die gemeente.
'n Gedenkplaat ter erkenning van die predikante wat deur die gemeente opgelewer is, is tydens die diens onthul.
Die ses predikante is ds. Pieter Du Plessis, Simon Adams, Samuel du Plessis, Impi Booysen, Danni Arries en Esau Willemse.
Die gedenkplaat is deur die moeder van ds. Booysen, Sophy Booysen, geskenk.
Die Volkskerk van Afrika is in 1922 deur wyle eerw. JJH Forbes in Kaapstad gestig en die Oudtshoorn gemeente is in Maart 1928 gestig met eerw. Daniël Janari as die eerste predikant. Wyle eerw. LT Rosseau het die gemeente tussen 1985 en 1970 bedien en wyle ds. Pieter Pietersen vanaf 1973 tot 1999. Ds. Samuel du Plessis is sedert 2000 die kerk se leraar.
Die feesprediker, dr. DJ Katts, voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika, het klem gelê op die woord genade, onverdiende guns van God. "Die gemeente het vir 90 jaar genade van God ontvang en my vraag aan almal is: Verkondig u genade?"
Volgens Jonathan Wicomb van die feeskomitee, sal die 90ste verjaarsdagvieringe voortgesit word met 'n sangaand vir Julie, 'n spogdinee in Augustus wat met Vrouedag sal saamval, en 'n debutantebal in Oktober.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'