SUID-KAAP NUUS - Boere van die Outeniqua-streek het hulle harte en hande oopgemaak en genoeg voerbale geskenk om twee gelede vragmotors vol te maak vir boere in droogtegeteisterde gebiede.
Volgens Philip Terblanche, voorsitter van die Outeniqua-boerevereniging, is die een vrag na die Fraserburg/Williston-area gestuur en die ander na Beaufort-Wes en Rietbron.
"Ons het al die boere in ons genader om elk 'n paar bale te skenk. Een boer het ook nog drie gewone vragmotors vol voer na Willowmore gestuur."
Volgens Terblanche het Outeniqualand 'n droë winter gehad, maar goeie reën laat in die winter en vroeë lente het gesorg dat almal 'n bogemiddelde oes kon afhaal.
"Ons het die boere wat werklik in die nood is eerste gehelp, dié wat nie eens die vervoer kan bekostig nie. Die probleem is baie keer dat die voer beskikbaar is, maar dan moet die boer self vir die vervoer betaal," het Terblanche gesê.
Fotogalery: Outeniqua-streek boere ontvang droogtehulp
Die boerevereniging kon weens die inperking nie hul vergaderings hou nie en besighede wat dit gewoonlik borg, is gevra om eerder die geld vir diesel te skenk. SSK, Tyres and Tread en M Briers Landboudienste se bydraes het dus vir die brandstof gesorg.
Van Greunen Boerdery het 'n vragmotor en wa beskikbaar gemaak wat voer na Rietbron geneem het.
Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'