DE RUST NUUS - Ineke Morgan, 'n inwoner van De Rust, het verlede jaar 'n voëlkykgroep, Suikerbekkie Voëlkykers, begin en wil ander belangstellendes nooi om deel te word van die groep.
"Ons is 'n groep van ongeveer 30 voëlkykers wat die laaste Woensdag van elke maand bymekaar kom en dan eenkeer 'n maand 'n uitstappie onderneem."
Morgan sê voëlkyk is haar passie en sy doen dit al 25 jaar.
"Toe ek De Rust toe getrek het, het ek 'n groepie gesoek om by aan te sluit, maar kon nie een kry nie. Dit is toe waar Suikerbekkie begin.
Ons het nog nie amptelik geregistreer nie en wil eers 'n volwaardige voëlkykgroep wees voor ons verder kan gaan. Daar is dus geen aansluitingsfooi nie."
Volgens haar is daar baie voëlkenners wat deel van die groep uitmaak.
"Ons het onder andere 'n afgetrede natuurbewaarder en 'n vrou met 'n breë kennis van diere en wat gereeld saam met veeartse werk. Oud en jonk is deel van die groep en ons wil graag ons kennis van voëls met ander ook deel," het sy gesê.
Morgan sê jy hoef ook nie 'n kenner te wees om deel te wees nie.
"Jy moet net 'n passie vir voëls en die natuur hê. 'n Mens leer vinnig by ander en met ons uitstappies leer jy om die verskillende voëltjies in ons streek te identifiseer."
Morgan sê belangstellendes kan 'n boodskap stuur na 079 276 4990 indien hulle by die groep wil aansluit.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'