Update
OUDTSHOORN NUUS - Dr Steven Evans, 'n professionele voëlkundige, bewaringsekoloog en 'n veldgids, wat onlangs in Oudtshoorn kom woon het, bied verskeie voëlkyktoere in die omgewing aan.
Omdat hy die omgewing goed ken en weet in watter habitattipes skaars spesies voorkom is hy die ideale gids vir voëlkykers. Die gebiede wat besoek word sluit in:
Die Sukkulente Karoo-bioom, wat rondom Oudtshoorn tot by Calitzdorp en Prins Albert strek en waar ondermeer die slangverklikker, Karoolewerik, Karoospekvreter, rooioorlangstertjie, grystjeriktik, Namakwasuikerbekkie en Karoolangstertjie voorkom.
Die Albany-ruigtebos noordwes van Oudtshoorn wat die tuiste is van ondermeer die Namakwalangstertjie en grysborstjagra.
Fynbos: Swartberge (Swartbergpas) en Outeniquas (Outeniqua-en Robinsonpas tussen Oudtshoorn en Mosselbaai), waar die witvlerkkanarie, rooiborsruigtesanger, Kaapse berglyster en oranjebors-suikerbekkie voorkom.
Woude: Die Outeniqua-, Montagu- en Prins Alfredpas (tussen Avontuur en Knysna) is die tuiste van spesies wat in inheemse bos en langs riviere voorkom, soos die Knysna-loerie en suidelike swie.
Evans neem een tot agt persone op 'n keer op toer en toergangers gebruik hul eie vervoer.
Besprekings vir die toere is noodsaaklik.
Al wat benodig word is 'n goeie verkyker wat ten minste 10 keer vergroot, en 'n veldgids.
Evans het in Oudtshoorn grootgeword en 'n BSc-graad by Noordwes Universiteit voltooi waarna hy in 2010 sy doktorsgraad verwerf het.
Sy navorsing aan die Universiteit van Venda in Thohoyandou het gehandel oor die verandering in grondgebruik en grondbedekking tussen 1990 en 2014 in die Vembe Biosfeerreservaat.
'n Slangverklikker wat in die gebied tussen Oudts-hoorn, Calitzdorp en Prins Albert voorkom.
Sedert sy terugkeer het hy lid geword van die Gourits Groepsbiosfeerreservaat (GCBR), waar hy 'n soortgelyke studie gaan onderneem.
Die navorsing ondersoek verskillende grondgebruike, soos menslike besetting, landboubedrywe en toerisme op die habitat en voëllewe.
"My navorsing sal hopelik bydra tot die beskerming van voëls en hul habitat in die Klein-Karoo," sê hy.
Vir meer inligting of besprekings vir voëlkyktoere kontak Steven Evans by 082 520 3909 of steven@littlekaroobirding.co.za.
Sy webblad www.littlekaroobirding.co.za verskaf verdere inligting.
Lees 'n vorige artikel: Voëlkundige bied nuwe toere aan
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'