OUDTSHOORN NUUS - Lede van die Vroue-Landbouvereniging (VLV) van Oudtshoorn het verlede week tydens hulle byeenkoms na 'n ander perspektief oor die heersende droogte geluister. Die onderwerp van die gasspreker, Adriaan Olivier van die volstruisbesigheidskamer, se praatjie was: Hoe diep sny die droogte in die lewe van die boer en sy gesin.
Olivier het daarop gewys dat die droogte baie dieper gaan as bloot die ooglopende gevolge. Hy het onder andere verwys na die wyse waarop kinders geraak word aangesien hulle blootgestel is aan gesprekke en besluite oor die droogte.
Volgens Olivier is boere deurentyd besig om na alternatiewe te kyk om die droogte die hoof te bied.
Die plaaslike VLV-tak is een van 15 takke van die SWD wat onder die VLV-Kaapland val. Oudtshoorn het 29 lede onder voorsitterskap van Valeria Terblanche. Volgens haar is die VLV 'n vereniging vir vasberade vroue wat glo in hul eie potensiaal en die van elke ander Suid-Afrikaanse vrou om hulself in 'n veranderde Suid-Afrika te kan handhaaf.
"Die VLV behoort aan die lede en is 'n vereniging vir persoonlike verryking, gemeenskapsdiens en die verbreding van kennis."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'