OUDTSHOORN NUUS - Lede van Oudtshoorn se polisie het vanmiddag omstreeks 14:00 ‘n man in Voortrekkerweg in hegtenis geneem nadat hy na bewering gister ‘n motor in Knysna gesteel het.
Die arrestasie het plaasgevind kort voordat die Oudtshoorn Courant ‘n WhatsApp-boodskap ontvang het waarin ‘n foto van die verdagte en die motor, ‘n Mercedes A180, gedeel is.
Volgens kaptein Louis Visser, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-polisie, is hulle ‘n rukkie voor 14:00 in kennis gestel dat die gesteelde voertuig op ‘n kamera buite Oudtshoorn opgemerk is.
Volgens Visser het die departement van vervoer verskeie kameras op hoofroetes wat onmiddellik reageer as ‘n voertuig wat op ‘n databasis geplaas is, opgemerk word. Die kamerastelsel het al tot verskeie arrestasies gelei.
Die 46-jarige man van Knysna is in hegtenis geneem en deur ‘n polisievoertuig tot by die polisiestasie vergesel waar die motor tans gehou word.
Hy is in hegtenis geneem op ‘n klag van voertuigdiefstal.
'n WhatsApp-boodskap wat vroeër vandag gesirkuleer is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'