DYSSELSDORP NUUS - Die waaksaamheid van Dysselsdorp-polisielede in reaksie op inligting oor veediefstal het gelei tot die arrestasie van vier verdagtes wat met volstruisvere en -karkasse in hul besit gevind is. Hulle sal na verwagting vandag, Maandag 29 Januarie hul eerste hofverskyning in die Oudtshoorn-landdroshof maak.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het die lede Donderdag, 25 Januarie 'n wenk ontvang oor moontlike diefstal van volstruise op 'n plaas buite Dysselsdorp. Hulle het op 'n huis in Dysselsdorp toegeslaan en met hul aankoms het hulle die verdagtes met volstruiskarkasse en -vere aangetref.
"Die viertal kon nie rekenskap gee van hul besit daarvan nie, en is daarna in hegtenis geneem op aanklag van die besit van moontlike gesteelde eiendom."
Spies sê die saak is aan die Oudtshoorn-veediefstal en bedreigde spesies-eenheid oorhandig.
"Verdere ondersoek het die polisie na 'n plaas in die omgewing geneem waar vasgestel is dat 'n aantal volstruise vroeër gesteel is. Die vonds, wat op ongeveer R100 000 gewaardeer word, is positief met die plaas verbind."
Volgens Spies is die verdagtes tussen 22 en 28 jaar oud en bly hulle in polisie-aanhouding. Hulle staan tereg op aanklagte van veediefstal en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Nog arrestasies
In 'n onverwante voorval, ook op 25 Januarie, het dieselfde lede verbonde aan die Dysselsdorp-polisie, twee steekoperasies by onderskeidelik Jeftastraat en Beleliestraat in Dysselsdorp uitgevoer. Die operasies het gelei tot die arrestasie van 'n 26-jarige vrou en 'n 26-jarige man nadat die polisie op klein hoeveelhede mandrax-tablette by die perseel beslag gelê het.
"Albei verdagtes sal op Maandag, 29 Januarie in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn. Hulle staan elk tereg op 'n klag van handel in dwelms."
Spies sê voorvalle van veediefstal het 'n nadelige impak op die ekonomie van hierdie streek en pogings om sulke voorvalle in samewerking met boerderygemeenskappe hok te slaan, is in plek.
"Die Wes-Kaapse polisiebestuur het die polisie se verbintenis herbevestig om diegene wat die volhoubaarheid van dié bedryf bedreig deur die diefstal van vee, te bespreek."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’