OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man van Dysselsdorp wat iemand van R450 beroof het is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tronkstraf van vier jaar opgelê terwyl sy medebeskuldigde vrygespreek en ontslaan is.
Lesley Maqabanga (32) en Justin Jacobs (34) het tereggestaan op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en rig van “enigiets wat waarskynlik ‘n persoon kan laat glo dit ‘n vuurwapen is”.
Hulle is daarvan aangekla dat hulle op 26 September 2021 vir Derick Jumaats die aand van R450 beroof het. Albei het onskuldig gepleit.
Manqabanga sê in sy pleitverduideliking dat hy die betrokke dag na Jumaats gegaan het om geld wat hy hom skuld vir tik te gaan haal.
Jacobs en nog ‘n vriend, Jumandre Antonie, was ook teenwoordig.
Jacobs sê in sy pleitverduideliking dat hy wel saam met Magabanga en Jumaats was, maar nie betrokke was by enigiets wat gebeur het nie
Volgens hom is hy en Antonie weg nadat Jumaats vir Maqabanga tik gegee het in plaas van geld. Volgens hom was daar tydens sy teenwoordigheid geen argument, bakleiery of enige ander insident tussen Maqabanga en Jumaats voordat hulle die toneel verlaat het nie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om Maqabanga se weergawe te verwerp en skuldig te bevind soos aangekla.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Maqabanga onskuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede maar wel aan gewone roof.
Hy is ook onskuldig bevind op die aanklag van die rig van enigiets wat ‘n persoon kan laat glo dit ‘n vuurwapen is omdat bewyse hieroor nie tot skuldigbevinding kan lei nie.
Jacobs is op albei klagte vrygespreek en ontslaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’