OUDTSHOORN NUUS - As 'n voorkomingsmaatreël om nog 'n Knysna-brandramp te verhoed, het die Eden-distriksmunisipaliteit 'n versoek gerig aan alle Eden-munisipaliteite om 'n moratorium te plaas op die uitreik van permitte vir beheerde brande.
Wouter Jacobs, koördineerder van Eden-rampbestuur, het aan die Oudtshoorn Courant gesê hulle as rampbestuur kan nie munisipaliteite forseer om so 'n moratorium in werking te stel nie. "Ons kan slegs die munisipale bestuurders versoek om dit te doen."
Jacobs sê die feit dat die Wes-Kaapse regering die provinsie as 'n droogterampgebied verklaar het, dra ook by tot hul versoek om 'n moratorium op die uitreik van beheerde brand permitte.
"Die versoek om 'n moratorium is 'n ekstra voorkomingsmaatreël om nog 'n Knysna-ramp te verhoed. Ons kan nie veel meer doen nie, want daar is nie fondse beskikbaar vir ekstra mannekrag nie.
Jacobs het die munisipale bestuurders versoek om te wag dat ten minste 50 mm reën oor die héle Eden-distrik uitsak, voor hulle die moratorium ophef.
Met ter perse gaan kon die Oudtshoorn-munisipaliteit se kommunikasie afdeling nie kommentaar lewer op Eden-rampbestuur se versoek nie, aangesien die brandweerhoof uitstedig was.
ARTIKEL & FOTO: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'