OUDTSHOORN NUUS - Musiek, poësie en stories was verlede Vrydagaand die bestanddele van 'n skrywersaand wat by die klein Karoo Ostrich Emporium aangebied is.
Ongeveer 40 gaste het kom luister na die stories, gedigte en musiek van Hannes Visser, Pieter Hugo, Dawie Louw en Marisca Visagie. Visser en Hugo het onderskeidelik uit hulle debuutbundels Die jaar toe pa... en Aldchemie van my muse, voorgelees en oor die gedigte gesels.
Die skrywer, Dawie Louw, wat buite Uniondale woon, het oor sy nuutste boek, Die Medusa-kode, gesels. Dit is sy derde boek en hy het reeds bykans 100 kortverhale geskryf. Vir afwisseling het die musikant, Marisca Visagie van haar eie liedjies asook 'n aantal ander bekendes gesing.
Johan Coetzee, die eienaar van Naledi wat die drie skrywers se boeke uitgegee het, was ook by die geleentheid. Hy het gesê die uitgewersbedryf is 'n uitdagende een en leespatrone onder mense verander gereeld.
Hy was egter positief oor die toekoms van boeke en het mense aangemoedig om in Afrikaans te belê deur boeke en digbundels te koop.
Naledi het onder andere verskeie RSG-boeke uitgegee asook twee omvattende digbundels met gedigte van die AVBOB-gedigtekompetisie wat jaarliks in al elf tale aangebied word.
Van die gaste het gesê dat daar meer sulke geleenthede op Oudtshoorn aangebied moet word waar inwoners geleentheid gegun word om met skrywers en musikante kennis te maak en te gesels.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'