LADISMITH NUUS - "Ek beloof om myself met waardigheid en ’n rein gewete aan die diens van naasteliefde en menswaardigheid toe te wy. Ek sal met alles binne my vermoë, die eer en edele tradisie van my professie handhaaf."
Dit is met hierdie belofte uit die verpleegsterseed waarmee verpleegsters aan die Kannaland Primêre Gesondheidsorg-kliniek en die plaaslike hospitaal, die Alan Blyth-hospitaal hul verpleegsterdagvieringe op Vrydag 12 Mei begin het.
Hiermee het hulle deel geword van Verpleegstersdagvieringe wêreldwyd. Die dag is op gepaste wyse deur pastoor Dawid de Villiers van die plaaslike Pinkster Protestante Kerk geopen.
In sy kort boodskap het hy na die Bybelse talente verwys en genoem dat elke verpleegster se individuele talente uiteindelik deel sal vorm van ’n span gekombineerde talente wat tot voordeel van die sieke aangewend sal word. Die tema vir hierdie jaar se vieringe was, The Exceptional Nurse-veldtog.
Matrone Anita Laubscher, het elke verpleegster teenwoordig geloof vir die toegewydheid en lojaliteit waarmee hul naastediens verwag.
"Ek is terdeë bewus van jul uitstekende werk en ek weet dat daar soms kritiek na julle toekom, maar weet ook dat daar meer dankbare pasiënte uit hierdie hospitaal stap as die teenoorgestelde. Dit is lekker om iewers in ’n gang ’n verpleegster saggies ’n geestelike liedjie te hoor neurie, of net ’n lekker lag van julle te hoor. Dit beteken julle is tevrede, julle geniet julle werk."
Sy het ook die verspreide bedieningsgebied van die hospitaal en kliniek uitgewys en verpleegsters daarop gewys dat hul pasiënte met ’n mate van verwagting na die instansies kom en nie teleurgestel mag word nie. Verpleegsters het vir hierdie dag selfs die eertydse harde verpleegsterskappie uit karton gemaak en gedra.
Twee verpleegsters, Celeste Graaff en Juliette September, is ook by hierdie geleentheid genomineer om die plaaslike hospitaal te verteenwoordig by die Tuinroete- en Eden-Sentraal-Karoo-gesondheidstreek se soeke na die uitsonderlike en toegewydste verpleegsters in die streek.
Die dag se verrigtinge is met ’n ligte ete en die oorhandiging van geskenkies wat van plaaslike besighede ontvang is aan verpleegsters oorhandig. Verpleegsters was aangenaam verras om ’n tasbare bewys van dank vanaf die besigheidsgemeenskap te ontvang en het hul dank teenoor die donateurs uitgespreek.
Verpleegsters Celeste Graaff (links) en Juliette September is vir 'n toekenning genomineer. Foto's: Deon Meyer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’