DYSSELSDORP NUUS - Die saak teen 'n man van Dysselsdorp, wat teregstaan op vier aanklagte van verkragting is in die Oudtshoorn-streekhof ’n tweede keer as voorkeursaak en finaal vir pleit en verhoor uitgestel omdat verdedigingsgetuies nie vir konsultasie by sy regsverteenwoordiger opdaag nie.
Die 32-jarige beskuldigde, wie se naam weerhou word omdat hy nog nie gepleit het nie, word daarvan aangekla dat hy op Kersdag 2017 te Booysenstraat, Dysselsdorp, op een of ander wyse ‘n 21-jarige vrou gepenetreer het sonder haar toestemming wat neerkom as verkragting.
Nadat sy regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, sy probleem met die verdagte se getuies aan die hof voorgehou het, het streeklanddros Daniël Boks dit aan die man gestel dat die saak ‘n volgende keer sal voortgaan al is sy getuies nie by die hof nie.
Die landdros het dit ook pertinent gestel dat enige beskuldigde geregtig is op die spoedige afhandeling van sy saak, maar in die geval is dit die beskuldigde se eie toedoen dat die verhoor nie kan begin nie.
Die saak is daarna as voorkeursaak en finale uitstel verdaag vir twee dae se verhoor op 16 en 17 April.
Die verdagte is reeds vir langer as ‘n jaar in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'