OUDTSHOORN NUUS - Drie vermeende rowers van Zoar het verlede week vlugtig in die Ladismith-landdroshof verskyn na hulle na bewering 'n 71-jarige man in sy huis op Bergplaas, Ladismith, beroof het.
Volgens ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, het die mans die slagoffer op 12 Oktober om 15:00 oorval en beroof.
"Hulle het gevlug met die man se Ford Lazer, R10 000 kontant, kruideniersware van R500, 'n 14 kg-gasbottel en wyn. Die verdagtes wat onderskeidelik 19, 29 en 36 jaar oud is, is op 14 Oktober in hegtenis geneem."
Cederas sê daar is ook verlede week twee mans in Suidstraat, Ladismith by 'n padblokkade in hegtenis geneem na die polisie 'n vuurwapen en ammunisie in 'n voertuig gevind het.
"Twee mans, een 24 jaar oud en een 47 jaar oud, is deur die polisie tydens 'n roetine padblokkade gestop. Die polisie het die 9 mm-pistool, waarvan die reeksnommer uitgewis is, en 8 rondtes ammunisie in die voertuig gekry. Hulle is op aanklag van die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem."
Die verdagtes het in die hof verskyn en is steeds in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'