OUDTSHOORN NUUS - Ses vermeende diewe het Maandag hulle rieme styfgeloop deur die blitsige optrede van die eienaars en werknemers van Market Freezeries in Adderleystraat.
Drie van die ses is jeugdiges en dit blyk dat die groep gereeld op straat gesien word.
Die verdagtes het Maandag douvoordag 'n deel van die staalhek langs die winkel oopgebuig, die elektriese heining beskadig en die sekerheidskamera ontkoppel om toegang tot die erf, waar die winkel se voorraad staan, te verkry.
Volgens een van die onderneming se werknemers het hulle skyfies en koeldrank gesteel en by die taxistaanplek verkoop.
"Die alarm het vroeg Maandagoggend afgegaan, maar van hulle was reeds weg toe ons by die winkel kom.
"Ons het hulle by die taxistaanplek gevang en terug winkel toe gebring.
"Ons het op die kringtelevisie gesien hoe een van die diewe oor die hek klim en dan gaan die kamera af.
"Dit is seker toe hy die kamera ontkoppel."
Die werknemer het verder gesê dat straatkinders glo die vorige dag skyfies, wat onderdeur die staalhek sigbaar was, gesteel het.
Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant op die toneel was die polisie reeds daar en was die verdagtes agter in die erf waar die voorraad van die winkel gestoor word.
Die polisie het hulle in 'n vangwa na die polisiestasie geneem vir ondervraging.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê die polisie ondersoek klagtes van opsetlike saakbeskadiging en diefstal.
Dieselfde kompleks waar dié winkel geleë is het in Augustus ook onder inbrekers deurgeloop.
Die deel van die staalhek wat oopgebuig is. Die verdagtes het so toegang tot die erf gekry. Die sekerheidskamera wat bo die hek was is deur een van die verdagtes ontkoppel.
Booswigte het by vier van die winkels in die kompleks ingebreek. Die inbrekers het toegang tot die gebou verkry deur by 'n badkamer agter Money Tree in te breek.
Hulle het die deur by die badkamer oopgebreek waarna hulle die pleisterbordmuur wat aan Chloë's Boutique grens oopgebreek het.
Hulle het van winkel tot winkel deur die pleisterborde gebreek tot hulle uiteindelik by Market Freezeries ingekom het.
Daar het hulle 'n kasregister stukkend gegooi en R1 000 kontant, R1 500 se lugtyd en sigarette gesteel.
Niemand is nog in verband met die inbrake in Augustus in hegtenis geneem nie.
Die ses verdagtes wat Maandag gevang is, word nie met die inbraak in Augustus verbind nie.
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'