OUDTSHOORN NUUS - My oorlede skoonvader, dominee Isak Vos, het as dienaar van die Here in verskeie plattelandse gemeentes gedien.
Na byna veertig jaar se bedieningservaringe, kon hy baie stories en staaltjies vertel.
Van die stories en staaltjies was gelaai met humor en het mens heerlik laat lag.
Ander stories was weer van ernstige aard en het diep en waardevolle lewenslesse gedra.
Een van sy kosbare ervaringe was tydens 'n huisbesoek aan 'n gesin wat dit nie breed gehad het nie.
Met die besoek het die gesin met 'n sug van moedeloosheid hulle gesange van swaarkry en armoede gesing.
Goeie en deernisvolle dominee wat hy was, het my skoonvader die gesin vertroos en bemoedig.
Hy het ook hulle Bybel gevra om hulle uit die Woord van die Here te versterk.
Tydens sy gebed waarin hy hulle aan die Here opgedra het, het hy ongemerk 'n geldnoot in hulle Bybel geplaas by die Skrifgedeelte wat hy vir hulle gelees het.
Toe hy groet, het hy die gesin aangemoedig om weer die Skrifgedeelte te lees.
Met 'n volgende besoek 'n paar maande later, het die gesin dieselfde klaaglied oor armoede en swaarkry gesing.
Skoonpa het hulle weer met groot geduld bemoedig en, soos die vorige keer, gevra om hulle Bybel te gaan haal.
Hy vra hulle toe of hulle die Skrifgedeelte wat hy die vorige keer gelees het self gelees het, en of dit vir hulle van waarde was.
"Ja dominee" antwoord hulle ewe vroom.
Maar toe skoonpa die Bybel oopmaak, was die geldnoot nog steeds daar, presies waar hy dit geplaas het!
Hierdie geldnoot se waarde was genoeg om 'n verskil te maak aan die gesin se swaarkry, maar hulle het dit gemis.
Hulle het dit gemis omdat hulle nie die Woord van die Here oopgemaak het nie.
Hierdie ervaring van my skoonvader het my al baie keer laat nadink oor die rykdom wat verlore gaan, omdat ons nie ons Bybels oopmaak en lees nie.
Die Woord van die Here het soveel rykdom wat werklik 'n verskil aan ons lewens kan maak.
Maar, as ons nie die Bybel lees nie, mis ons dit en leef ons in armoede.
Ons lewe is dikwels 'n klaaglied van ellende, omdat ons nie die lied van lewe en oorwinning uit sy Woord hoor nie.
Ons verdwaal gereeld op lewenspaaie en beland op moedverloor se vlakte, en ons mis die woorde van hoop en aanmoediging, omdat ons Bybels toe lê en stof vergader.
Die Bybel is die Here se skatkamer met 'n onuitputlike bron van skatte en rykdom, maar om dit te bekom moet jy die skatkamer oopsluit.
Ons is so dikwels geestelik arm omdat ons nie tyd maak om in die Woord te delf nie.
Ons smag na die rykdom van krag en wysheid en liefde, maar ons is te lui en te ongedissiplineerd om hierdie weelde uit sy Woord te ontvang.
Menige Christen se lewe het al verarm en in geestelike anoreksie verval, omdat die Bybel toe lê op die bedkassie.
Weggesteek onder 'n tydskrif en 'n leë koffiebeker. Of toe onder die stof, omdat die televisie die laaste sê oor my dag se program het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'