ABERDEEN NUUS - Verlof om teen sy vonnis te appelleer is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof geweier aan 'n boer van Aberdeen wat aan menseroof en seksuele aanranding van 'n vrou van De Rust skuldig bevind en vir drie jaar onder huisarres geplaas is.
Louis Lategan (39) het op 15 Oktober 2021 'n 39-jarige vrou van De Rust net buite die dorp opgelaai. Hy het haar gevra om hom te gaan wys waar die mense met die van, Delport woon.
Volgens die slagoffer het hy haar in die ry gevra om haar bloes op te trek en haar borste met sy linkerhand betas. Sy het later aan verbygaande vragmotorbestuurders gewys om stil te hou, maar sonder sukses.
Lategan se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het die hof vir 'n opgeskorte vonnis gevra omdat die beskuldigde 'n eerste oortreder is en die klaer nie gesleep, geblinddoek of vasgebind is nie en gevolglik nie enige beserings opgedoen het nie.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het gesê Lategan het 'n vrou van haar vryheid ontneem en saamgestem dat dit 'n eiesoortige geval is, maar steeds 'n ernstige misdryf waarvoor die beskuldigde gestraf moet word.
Die klaer sê in 'n slagoffer impakverslag dat die beskuldigde inbreek gemaak het op haar privaatheid en haar slaappatroon nie meer dieselfde is nie. Sy is alewig bang en voel nie meer veilig op straat nie en eis finansiële vergoeding vir die trauma waardeur sy gegaan het.
Volgens Arnolds hoef menseroof nie altyd met geweld te geskied nie. Die beskuldigde het onskuldig gepleit wat 'n teken is dat hy geen berou toon nie.
Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat die klaer, sowel as haar suster, betroubare getuies was terwyl die weergawe van die beskuldigde as vals verwerp is.
"Dit was die wakker optrede van die polisie wat die beskuldigde gou vasgetrek het," het die landdros gesê.
Die hof het vir vonnis in ag geneem dat die beskuldigde 'n eerste oortreder is.
Die hof het die twee aanklagte vir vonnis saamgeneem en Lategan tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis wat voorwaardelik en in geheel vir vyf jaar opgeskort is. Verder is hy tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis wat behels 24 uur per dag onder huisarres behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Hy is ook gelas om 'n vergoedingsbedrag van R6 000 aan die klaer te betaal.
Die hof het bevind dat die vonnis wat Lategan opgelê is nie 'n buitensporige vonnis is nie en geen vooruitsigte bestaan vir 'n ander hof om 'n ligter vonnis op te lê nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’