Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Vrou wat aan haar bed gekluister was, is Woensdagmiddag omstreeks 11:30 dood in 'n huisbrand op 'n plaas buite Oudtshoorn.
Jeanette Adonis (57) was alleen in die huis toe die brand ontstaan het.
Sy deel die huis met haar ma van 97 en 'n gestremde broer in sy veertigs. Hy was ook tuis tydens die brand, maar hy was buite toe die brand ontstaan het.
Volgens nog 'n broer, Apools Meyer, was hy elders op die plaas besig om te werk toe iemand hom laat weet het sy ma se huis brand.'n Plaaswerker wat ook op die plaas in diens is, het die brand gesien en hulp gaan soek.
'n Watertenkwa wat toevallig verbygery het, is voorgekeer en helpers kon die brand blus voordat die brandweer op die toneel was.
Volgens Meyer kon hulle nie by die deur in die huis inkom nie. "Ons het deur die venster ingegaan en my suster binne gekry, maar sy was reeds dood."
Hulle het haar liggaam deur die venster uitgehaal en agter die huis met 'n kombers bedek.
Omstanders was bekommerd toe Adonis en Meyer se ma van 97, ook Jeranette, nie opgespoor kon word nie.
Sy was ook nie in die sinkgebou langs die werkershuis nie.
Kyk 'n video hieronder:
'n Vrou ondersteun die 97-jarige Jeanette Adonis nadat haar dogter in die brand gesterf het. Foto's: Hannes Visser
Sy is egter 'n ruk later opgespoor waar sy besig was om hout bymekaar te maak. Die oorledene se volwasse seun en -dogter wat op ander plase werk is ook na die toneel gebring.
Volgens Meyer blyk dit dat die brand in die kamer waar sy suster geslaap het, uitgebreek het. Hulle kon nog nie vasstel wat die brand veroorsaak het nie.
Hy sê die familie woon al hulle hele lewe op die plaas.
Die oorledene se broer, Apools Meyer by die uitgebrande huis.
Lees 'n vorige artikel: Vrou sterf in brand
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'