OUDTSHOORN NUUS - Die hof kan nie sien dat daar enige ander hof tot ‘n ander beslissing kan kom nie en daarom word die aansoek van die hand gewys.
So het streeklanddros Daniel Boks gesê toe hy die aansoek van Henry Jansen (54) van Krakeel, om teen sy skuldigbevinding en vonnis van 15 jaar vir die verkragting van sy saamleefmaat te appelleer, verlede week geweier het.
Jansen het onskuldig gepleit, maar sy getuienis dat die vrou ‘n storie opmaak, is deur die hof verwerp. Hy is op 29 September vanjaar gevonnis.
Die klaer het getuig dat Jansen haar daarvan beskuldig het dat sy kruideniersware wat hy gekoop het, vir drank gaan verkoop het en haar vir ’n dag toegesluit, aangerand en herhaaldelik sonder haar toestemming geslagsgemeenskap met haar gehad het.
Jansen het in sy aansoek gesê die hof het fouteer met sy skuldigbevinding sowel as die vonnis en dat hy van mening is dat ‘n ander hof moontlik tot ‘n ander bevinding kan kom.
Streeklanddros Daniel Boks het in sy uitspraak gesê dat die hof nie fouteer het met die skuldigbevinding nie en die vonnis van vyftien jaar nie skokkend is nie.
Die hof het bevind dat daar geen moontlikheid bestaan dat ‘n ander hof tot ‘n ander beslissing sal kom nie en die aansoek geweier.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'