BEAUFORT-WES NUUS - Die saak teen 'n man wat aan verkragting van 'n minderjarige meisie op 5 April 2020 aangekla word, is Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof vir uitstaande DNS- en ander verslae tot volgende maand uitgestel nadat 'n waarskuwingsverklaring wat hy na die beweerde voorval afgelê het, as ontoelaatbaar bevind is.
Die verdagte, Isak Storm, se regsverteenwoordiger, Olivier van der Westhuizen, het die hof vir 'n verhoor binne 'n verhoor gevra ten opsigte van die toelaatbaarheid van die verklaring wat die ondersoekbeampte, sers. Ashley Louw, 'n dag na die beweerde voorval afgeneem het.
Volgens hom het Louw nie Storm, soos deur die wet bepaal, die geleentheid gegee om met 'n regsverteenwoordiger te praat voordat hy die verklaring afgeneem het nie.
“Die polisie moet te alle tye redelik optree teenoor verdagtes en veral wanneer ‘n persoon, in die geval van Storm, ongeletterd is en nie kan lees of skryf nie,” het Van der Westhuizen gesê.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om die verklaring in belang van geregtigheid, as bewysstuk te aanvaar.
Storm se grondwetlike regte is deur die ondersoekbeampte aan hom voorgehou en onder meer meegedeel dat die besluit by hom berus om ‘n verklaring af te lê of van sy swygreg gebruik te maak.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met die verdediging saamgestem en beslis dat die verklaring ontoelaatbaar is as bewysstuk.
Volgens haar was dit nie ‘n geval van lewe of dood nie en is die verduideliking van die ondersoekbeampte dat hy nie ‘n telefoonnommer van die Regshulpraad gehad het nie, onaanvaarbaar.
Die saak is daarna vir verdere verhoor in die Beaufort-Wes-streekhof tot 29 November uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Karoo nuus