OUDTSHOORN NUUS - Die pa en sy twee seuns van Mosselbaai wat daarvan aangekla word dat hulle in Januarie 'n sakeman van Oudtshoorn, Jannie Venter, by sy ingenieursfirma in George aangerand het, het Dinsdag 17 Julie in die George-streekhof verskyn om 'n verhoordatum vas te stel.
Die saak teen Ivan Kent (30), sy pa, Lionel (55), en sy broer Divan (27) is voorlopig tot 13 Augustus uitgestel.
Ivan het by Venter gewerk ten tyde van die aanval. Die bakleiery wat tot die aanranding gelei het, het glo ontstaan oor 'n geskil oor salarisgeld wat Venter aan Ivan verskuldig was. Die Oudtshoorn Courant het op 8 Februarie berig dat die drie mans Venter glo verskeie kere bewusteloos geslaan het, hom met water wakker gemaak het en weer aangerand het.
Ivan het ná die aanranding in Venter se wit Isuzu-bakkie gespring en van die toneel in die rigting van Mosselbaai gejaag. Na 'n woeste jaagtog waar hy verskeie padblokkades ontglip het, is hy in Mosselbaai aangekeer nadat die polisie die bakkie se bande stukkend geskiet het.
Aanklagte teen hom is onder andere poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, roof met verswarende omstandighede, motordiefstal en roekeloos en, of nalatige bestuur.
Sy pa en broer het met die maatskappy se Toyota-bakkie gevlug. Hulle staar onder andere aanklagte van poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, in die gesig. Hulle is ook kort na die voorval in hegtenis geneem.
Lionel en Divan is in Februarie elk op borgtog van R500 vrygelaat en Ivan in April.
Lees vorige artikels:
- Trio se saak finaal vir 'n streekhofdatum uitgestel
- Kent-trio weer in hof
- Trio weer in hof vir aanranding
- Borgtog vir man na aanranding
- Man steeds in aanhouding vir aanranding
- Borgtog vir pa en seuns na aanranding
- Pa en seuns in hof vir aanranding
- Opvolg: Pa en seuns in hof na aanranding
- Pa en seuns vas vir poging tot moord
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'