OUDTSHOORN NUUS - Die polisie ontvang gereeld klagtes van mense wat deur skelms ingeloop word tydens die gebruik van OTM’e.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn polisie kan die meeste van hierdie voorvalle deur basiese voorsorg voorkom word.
Hy doen die volgende belangrike wenke aan die hand:
• Misdadigers nader die gebruiker by die kitsbank om hulp aan te bied. In die proses ruil hulle die bankkaart om sonder dat die slagoffer dit agterkom.
• Moet geen hulp van vreemdelinge aanvaar nie en kanselleer die transaksie onmiddelik as onraad vermoed word.
• Verberg die sleutelbord wanneer die PIN ingetik word. Moenie die PIN intik as iemand naby aan jou staan nie.
• Volg die instruksies van die kitsbank noukeurig en tik die PIN slegs in wanneer dit op die OTM skerm versoek word
• Indien jy tydens die transaksie gepla word deur ’n ander persoon, verander jou PIN onmiddellik of stop jou bankkaart.
• Moet nooit jou bankkaart in die gleuf in forseer nie. As die masjien hom nie met gemak laat ingly nie is daar waarskynlik met die masjien gepeuter.
• As iemand aanbeveel dat jy die kaart moet uithaal en weer insit neem die kaart en verlaat die OTM.
• As jy jou transaksie kanselleer en jou kaart kom nie uit nie, kanselleer onmiddelik jou kaart. Daar is kontaknommers op elke OTM. Moenie wag nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'