OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep kleinboere van Oudtshoorn het onlangs hul eie, onafhanklike boerevereniging gestig en ook as lid van Agri Klein Karoo aangesluit.
Albert Nokole, voorsitter van die Bongolethu Small Farmers Association, sê hulle het in Oktober die vereniging gestig met die doel om jong, opkomende boere in die omgewing te help.
"Ons kinders sukkel om werk te kry en baie van hulle stel belang om te boer. Almal wil nie noodwendig dokters of onderwysers word nie en kleinboerdery is 'n goeie begin. Baie van die ander lede doen dit weer as 'n ekstra inkomste of om hulle Sassa- of pensioengeldjies aan te vul."
Nokole sê die idee met die stigting van die vereniging is om die boere op 'n gestruktureerde manier te bemagtig.
"Ons doel is om ontwikkelingsplanne te organiseer vir die kleinboere sodat hulle selfonderhoudend kan wees en hul produkte plaaslik kan bemark en verkoop. Dit is ook waarom ons die voorlegging na Agri gebring het. Ons as boere, klein of kommersieel, kan baie verder kom as ons dit saam doen eerder as om op ons eie dit te doen.
"Ons help ook mekaar wanneer dit by die beveiliging van die diere kom, want diefstal onder plaasdiere is 'n groot probleem."
Nokole sê die kleinboere is definitief besig om uit te brei.
"Daar is baie wat dit slegs vir huishoudelike gebruik doen, maar baie van die boere begin die vee verkoop. Hulle boer met varke, skape, bokke en beeste."
Laubscher Coetzee, 'n bekende volstruisboer van Oudtshoorn en ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap se algemene sakekamer, sê Agri is baie trots dat kleinboere die inisiatief geneem het om 'n vereniging te stig en aan te sluit.
"Van die boere het reeds vee by veilings ook verkoop, wat wys dat hulle kommersieel begin raak en onafhanklik funksioneer. Hulle het die inisiatief geneem en 'n streng grondwet opgestel en dit na ons toe gebring. Ons is vreeslik opgewonde om hulle as deel van Agri te hê en ons sien uit daarna om hande met die kleinboere te neem so ver ons kan."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'