DYSSELSDORP NUUS - 'n Agtienjarige man van Dysselsdorp is hierdie week vir nog ses jaar tronk toe gestuur nadat hy twee selfone gesteel het en 'n vrou op die grond neergegooi het.
Percival Januarie wat tans besig is om 'n ander vonnis van ses jaar uit te dien, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir ses jaar tronk toe gestuur. Drie jaar is vir diefstal en die ander drie jaar vir aanranding.
Januarie het skuldig gepleit op aanklagte van huisbraak met die opset om te steel en diefstal asook aanranding. Hy het erken dat hy by die woning van Atwina Stuurman ingebreek en twee selfone gesteel het. Toe sy hom later in die straat daaroor konfronteer het hy kwaad geraak, haar op die grond neergegooi en weggehardloop.
Hy het erken dat hy verkeerd opgetree het en baie jammer is daaroor.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Januarie is aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind en dat 'n opgeskorte vonnis, boete of korrektiewe toesig nie van pas sal wees nie.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'