Die ongeluk het om 16:30 sowat 10 km buite Oudtshoorn op die De Rust-pad plaasgevind. Volgens die bestuurder van die Mazda het hy stadiger gery om by 'n plaas in te draai.
"Ek het gesien daar is 'n wit kar agter my wat gewag het dat ek draai, maar toe ek draai het die silwer kar van agter af verbygekom en ons getref."
Volgens 'n ooggetuie, wat direk agter die Mazda gery het, het die Mazda aangedui dat hy gaan regs draai en stadiger gery.
"Daar was 'n bakkie agter my en net voor die Mazda wou draai het die bakkie by ons al twee verbygegaan, maar gelukkig het die man in die Mazda die bakkie sien aankom. Toe die bakkie verby is, het hy gedraai, want daar was nie karre van voor af nie. Toe kom die silwer kar ook by ons verby en ry in die Mazda vas."
Die bestuurder van die Kia het op die toneel gesê dat hy nie vinning gery het nie en nie gesien die Mazda was besig was om te draai nie.
Sy motor het na die slag die pad verlaat en tussen bossies tot stilstand gekom. Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant het die insittendes van die Mazda op die skouer van die pad gesit. Twee van hulle het gekla dat hulle bene seergekry het. Ambulanse het minute daarna opgedaag.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie is een persoon in die hospitaal behandel vir kop- en nekbeserings en later ontslaan. 'n Klag van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.
Nooddienswerkers gee aandag aan die insittendes van die Mazda wat deur 'n motor wat verbyge-steek het, getref is.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'