OUDTSHOORN NUUS - 'n Meisie (9) is verlede Dinsdag in haar ouers se erf in Kuduweg deur 'n Amerikaanse veghond gebyt.
Die meisie het aan Oudtshoorn Courant vertel sy het op die paadjie in hulle erf gestaan toe die hond skielik van agter kom en haar aan haar kuit gryp.
"Ek het nie eers geweet hy is daar nie. Hy het net gehap en toe is hy weer by die erf uit." Volgens Miena Fortuin, die meisie se tannie wat ook daar woon, is sy ook onlangs amper deur dieselfde hond gebyt.
"Ek het voor in my erf vir die taxi gewag en toe kruip die hond deur die heining. Ek het na die buurman, geroep om die hond te kom haal, want die hond wou nie dat ek uit die erf uit gaan nie." Volgens Fortuin sukkel hulle al geruime tyd met die hond. "Die hond is 'n probleem. Hy het al ander honde in die buurt ook gebyt. Hy word in 'n hok in sy erf toegemaak en kom nie baie uit nie. As hy uitkom soek hy plek om te ontsnap."
Oudtshoorn Courant het met twee ander persone ook gepraat. Die man wat reg langs die veghond woon het bevestig dat sy hond gebyt is, en deur skutpersoneel gehaal en behandel is. 'n Naburige vrou sê haar hond is die Sondag voor die meisie gebyt is, deur die veghond doodgebyt. Volgens haar is haar hond ook deur personeel van die skut kom haal.
Die eienaar van die hond het Maandag ontken dat sy hond die meisie gebyt het.
"Ek erken hy het al ander honde gebyt, maar nog nooit mense nie. Die wetstoepassers was hier en ek het 'n boete gekry. Ek weet nie eers waarvoor die boete is nie, maar my hond het nog nooit iemand gebyt nie."
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, was daar 'n wetstoepassingsbeampte by die woning in Kuduweg waar die kind gebyt is.
"Dit is ook die eerste keer dat so 'n klagte aan wetstoepassing of die diereskut gerapporteer is. Hulle dra nie kennis van vorige insidente waar die hond in die straat was nie. Die wetstoepassingsbeamptes het 'n boete aan die eienaar van die hond opgelê wat gebaseer is op 'n beëdigde verklaring van die klaer.
"Die hele aangeleentheid word tans dieper ondersoek."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'