OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Oudtshoorn wat glo sy Amerikaanse veghond aangehits het om 'n 15-jarige seun te byt, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof as gevolg van te min hoftyd vir verdere getuienis uitgestel.
Die beskuldigde, Howard du Plessis, staan tereg op 'n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Hy het glo op 9 Februarie vanjaar sy hond, Benjie, aangehits om vir Angelo Pikaan te byt waar hy in Saturnusstraat, Toekomsrus, op 'n klip gesit het.
Die hond het Pikaan glo aangeval nadat du Plessis gesê het "Sa Benjie". Die hond het die seun voor sy bors en aan sy hand gebyt voordat hy 'n klip kon optel om dit te gooi. Daarna het hy huis toe gehardloop om vir sy ma te gaan sê, het die seun getuig. Sy ma het die polisie gebel wat hom na die hospitaal geneem het en hy pynpille en salf gekry het.
Volgens hom het die beskuldigde net gestaan en kyk toe die hond hom aanval.
Die hond het glo ook al drie ander familielede van die klaer gebyt.
Volgens die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Cindy Murray-Smith, van die regshulpraad, sal hy getuig dat Pikaan opgespring en gehardloop het toe hy met sy hond in die straat gestap en die hond toe sy leiband gebreek het. Hy het probeer keer maar kon nie daarin slaag nie. Hy het ook getuig dat Pikaan met 'n klip na hom gegooi het en ontken die beskuldigings teen hom. Die saak word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor en is vir voortsetting tot 24 Julie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'