LADISMITH NUUS - 'n Man van Ladismith met die bynaam 'Varkie' is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof aan verkragting en seksuele aanranding skuldig bevind en die saak is vir voorvonnisargumente en vonnis tot later die maand uitgestel.
Zavienne Appels is daarvan aangekla dat hy die aand van 1 Desember 2017, 'n 25-jarige vrou, wat hom ken, van 'n taverne agtervolg en later in 'n klofie van agter gegryp en verkrag het. 'n Rukkie later het hy haar weer teen die grond gegooi en glo probeer verkrag.
Appels het ontken dat hy die betrokke aand in die klofie was. Volgens hom verwar die klaagster hom met iemand anders.
Hy het ook nie die betrokke aand die klaagster of die vrou na wie sy geroep het, Heidi Wagenaar, gesien nie.
Die klaagster het getuig dat dit nie so donker was dat sy nie Appels se gesig kon sien nie en dat almal hom as 'Varkie' ken. Hy was ook die aand in die taverne waar sy gedrink en gedans het.
Streeklanddros Daniël Boks het Appels se weergawe van algehele ontkenning verwerp omdat die klaagster sowel as Wagenaar hom uitgeken het.
"Die klaagster het 'n chronologiese uiteensetting van gebeure gegee en 'n goeie indruk op die hof gemaak. Boonop het Wagenaar gesien hoedat hy die klaagster sleep en hom positief identifiseer. Twee persone kan nie so 'n fout begaan nie," het die landdros gesê.
Die landdros het bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het wat die verkragting betref, maar nie die poging tot verkragting nie.
Die saak is vir voorvonnisargumente tot 17 Mei 2019 uitgestel en sal in die streekhof in Ladismith aangehoor word.
Elaine Plaatjies is die aanklaer.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'