OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van die drie verdagtes wat teregstaan op sewe aanklagte van roof met verswarende omstandighede, voertuigdiefstal en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie moes verlede week in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel word sodat een van hulle om regshulp aansoek kan doen.
Dit het gevolg op die onttrekking van Gideon Badenhorst, wat namens Zuka Martin verskyn het.
Martin (30) van Cradock, Liberty Mpala (31) van Kuilsrivier en Malavine Simakade (29) van Langa, pleit onskuldig op al die aanklagte teen hulle.
Die rooftog op Vrydag 23 Junie 2017, by die Twaksak Supermark op Van Wyksdorp, het destyds skokgolwe deur die Klein-Karoo gestuur nadat die gewapende rowers met die Ford Ranger van die eienaar, George van Tonder, en hul eie Hyundai-bussie weggejaag het.
Die bussie het later omgeslaan en twee van die insittendes is dood.
Van Tonder het verlede week getuig dat hy met 'n vuurwapen teen die kop geslaan, vasgebind en van meer as R260 000 beroof is. Die meeste van die geld is egter teruggevind.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en is uitgestel tot 20 Februarie vir Martin om nuwe regsverteenwoordiging te kry.
Mpala word deur adv. Benito Metembo en Simakade deur Eugene Roos van die plaaslike Regshulpraad verteenwoordig.
Willem Vister is die aanklaer in die saak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'