OUDTSHOORN NUUS - "Dissipline en nogmaals dissipline. Dit is wat die Suid-Afrikaanse Weermag van elke soldaat verwag. En dit is ononderhandelbaar. Wees trots daarop en maak die Suid-Afrikaanse Weermag trots."
So het die hoof van die SANW, generaal Solly Zacharia Shoke, Vrydag by die Infanterieskool op Oudtshoorn aan die 806 rekrute tydens hul uitpassering gesê.
Die rekrute het reeds hul basiese opleiding van sowat vyf maande voltooi.
"Van vandag af is julle soldate en jou toekoms is in jou eie hande."
Shoke het aan die nuwe soldate gesê dat daar sonder dissipline, dapperheid, patriotisme en toewyding geen toekoms in die weermag is nie.
Hy het 'n beroep op die nuwe soldate gedoen om uit te gaan en 'n verskil in hul onderskeie gemeenskappe te maak.
Volgens die generaal moet daar 'n duidelike verskil wees tussen 'n soldaat en die gewone burger van die land.
"As Suid-Afrikaner kan ons nie bekostig dat mense skole en klinieke afbrand en nog diens verwag nie."
Honderde families en vriende van oor die land heen het die indrukwekkende uitpasseringsparade op die Infanterieskool se sportterrein bygewoon en Shoke het weer die inwoners van Oudtshoorn en die munisipaliteit namens die weermag bedank vir hul samewerking en lojaliteit teenoor die Infanterieskool.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'