PRINS ALBERT NUUS - 'n Gewilde uitkykpunt tussen Klaarstroom en Prins Albert word só bemors dat 'n boer verlede week besluit het om in te gryp en die vullis letterlik voor die munisipaliteit se deur af te laai.
Dr. Ian Punt en sy vrou, dr. Louisa Punt-Fouché woon reg onder die gewilde uitkykpunt op die Kredouwpas en moet daagliks in die vullis wat mense daar stort vaskyk. Punt sê die vuilgoed is nie slegs rondom die enkele vullisdrom en oor die res van die parkeerplek gestrooi nie, maar besaai die terrein teen die bult af wat deel is van sy plaas, Kredouw-olyflandgoed.
Die afgelope week het dit só sleg gelyk dat Punt en 'n paar werknemers self die gebied skoongemaak en twintig sakke rommel by die Prins Albert-munisipaliteit gaan aflaai het.
"Die stopplek bokant ons plaas lyk soos 'n afvalhoop. Dit word ook as 'n openbare toilet gebruik en dwelmsmokkelaars doen snags sake daar. My po-gings om iets te laat doen, is ná 'n paar teenstrydige reaksies van owerhede met minagting behandel."
Punt het ook in verbinding getree met Johan Rabe van die Wes-Kaapse departement vervoer en openbare werke se Oudtshoorn-kantoor. Volgens Rabe het hy die rusarea op 12 Julie besoek en "en dit heel skoon en netjies gevind."
Volgens hom is een van die verantwoordelikhede van die kontrakteur wat die pad onderhou om die gebied skoon te hou.
By navraag het Anneleen Vorster, woordvoerder van Prins Albert se munisipaliteit, gesê: "Die gedeelte waarna dr. Punt verwys is binne die padreserwe geleë en ressorteer onder die verantwoordelikheid van die provinsiale paaiedepartement. Provinsie het 'n onderhoudspan aangestel wat in dié gebied werk, en hulle maak die uitkykpunt en hele gebied gereeld skoon. Die munisipaliteit kan nie 'n ander owerheid se grondwetlike magte oorneem nie."
Volgens Punt blyk dit dat Rabe nie verantwoordelikheid aanvaar vir die hoeveelheid vullis wat op Kredouw-olyflandgoed beland nie en ook nie bereid is om te help met die opruiming daarvan nie.
"Enige mens is verantwoordelik vir sy eie gemors as dit jou buurman se eiendom besoedel. Ek dink ons boere behoort te kyk na 'n klagsaak teen die Wes-Kaapse regering en Sanral oor die gemors langs ons paaie en op ons plase. Dis 'n probleem wat geïgnoreer word. Oor die uitwerking hiervan op die omgewing en toerisme kan lank gepraat word."
ARTIKEL & FOTO: MARLENE MALAN
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'