OUDTSHOORN NUUS - Uitkampteater, die KKNK se bekroonde kortkuns-program, slaan vir die vierde jaar sy tentpenne in.
“Ons is opgewonde oor vanjaar se Uitkampteater-program, wat weer kunstenaars uit Nederland, talent uit die plaaslike distrik en opwindende werke van jong en gevestigde teatermakers insluit,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
“’n Projek soos hierdie is slegs moontlik met ondersteuning van borge en ons is dankbaar vir die voortgesette verhouding met die Koninklike Nederlandse Ambassade, Pretoria. Vermaak word in verskeie genres aangebied en elke produksie is familievriendelik, vir oud en jonk om te geniet."
Jos van Wees en Merel Kamp besoek Oudtshoorn vanuit Nederland en hulle Springtime: Hendrick-Jan de Stuntman meets Merel Kamp beloof om ’n Uitkampteater-hoogtepunt te wees. Dit is ’n baldadige komedie in die styl van ’n tradisionele stilprent. ’n Man en ’n vrou hang aan spiraalvere wat aan ’n staalstruktuur vasgemaak is. Dit is ’n skouspelagtige visuele vertoning waarin die clichés opbou tot ’n tragikomiese liefdesverhaal. Hierdie stuk word daagliks gratis aangebied.
Onder die Uitkampteater-dramas tel die DCAS Eden Dramafees-wenners Highway met Llewellyn Bond en When love resigns met Charné Jansen en Gashmée Harrison. In Highway is Bond op reis, die pad lyk lank en uitputtend. Daar is ’n paar motors wat stop op die snelweg – honger vir goedkoop liefde, maar dan stop daar ’n spesiale persoon. In When love resigns ontmoet Patricia uiteindelik die man van haar drome en is halsoorkop verlief, maar sy sukkel om mans te vertrou. Is Liam regtig die perfekte man of steek hy ’n geheim weg wat die pad van hul liefde vir ewig kan verander?
Llandi Beeslaar en Stephanie Gericke, die span wat verlede jaar die Kannaprys vir beste Uitkampteater gewen het, is terug met ’n donkerkomedie, Halfses vir sesuur. Ten spyte van absurde onderbrekings, probeer twee vriende steeds hul ete geniet. Die verhoog is gedek vir ’n aand vol ongemaklike stiltes, onverwagse waarhede en miskien selfs nagereg.
Volg is fisieke teater met Jurgen McEwan en Ame Reinke waarin die liefdesverhaal van Adam en Eva vertel word. Adam wat Eva wil laat glimlag, en Eva wat Adam ten alle tye versadig en vertroos wil laat voel. Aangevul met musiek gaan die gehoor op reis saam met die verliefdes, pasgetroudes en ook die stereotipiese rolle wat aan mans en vroue toegeken word.
Èmil Haarhof en Tiaan Slabbert verwelkom in Die leeutemmer, die gypsy en die kas vol hartseer narre die gehoor by die sirkus. Gunstelinge soos Tarzan, die leeutemmer met (of sonder) sy briljante leeu Simba, maak ’n verskyning. En dan natuurlik ook die twee narre, wat deesdae sukkel om te glimlag.
Stories oor die meermin bring storievertellers uit die distrik byeen. Hier vertel befaamde digters en storievertellers van die distrik, Poem Mooney en ds. André Boezak daagliks inheemse stories oor die watermeid en haar speelplek in die riviere. Dit is kultuurstories eie aan Oudtshoorn en omliggende areas.
Uitkampteater word daagliks van 10:00 tot 12:00 en weer van 15:00 tot 19:00 voor die Absa Burgersentrum aangebied. Kaartjies na produksies kos R30 en toegang tot die Nederlandse Springtime is gratis. Kaartjies is slegs by die Uitkampteater-area beskikbaar en kan nie vooraf bespreek word nie.
Die volledige feesprogram is by www.kknk.co.za beskikbaar en kaartjies vir ander produksies is by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home beskikbaar.
Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600, of verblyf@kknk.co.za gedoen word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'