OUDTSHOORN NUUS - Hennie Davel, bekende eiendomsagent van die dorp is na 54 dae uit die hospitaal ontslaan en sterk tans tuis aan.
Hy het in Januarie Covid-19 opgedoen en is in die hoësorgeenheid van Mediclinic George opgeneem.
Hy is Vrydag 5 Maart ontslaan en het 'n lang herstelpad wat voorlê.
Davel het hierdie week nie oor sy stryd in die hospitaal gesels nie, maar oor 'n diensverskaffer wat hom uitgeboul het. Volgens Davel het sy selfoonkontrak verstryk en daar was geen manier vir hom om dit uit sy hospitaalbed te hernu nie.
"Ek het die diensverskaffer gekontak om te verduidelik dat ek nie in staat is om na 'n winkel te gaan om dokumente te teken en 'n selfoon uit te soek nie. Tot my verbasing het een van die selfoonwinkel se werknemers, Wernich, met die hospitaal gereël om die hele transaksie by my te kom doen." Davel sê Wernich het nie net al die dokumente afgehandel nie, maar ook al die inligting van sy ou foon sommer daar in die hospitaalkamer na ny nuwe foon oorgeplaas.
Davel het Maandag telefonies gesê hy kan nog nie lang gesprekke voer nie en raak gou kortasem, maar hy is verheug om tuis te wees. "Daar is soveel mense wat my en my gesin ondersteun en bemoedig het, vir hulle almal wil ons 'n groot-groot dankie sê."
Tydens 'n die algemene jaarvergadering van die Oudtsoorn-besigheidskamer wat voorverlede week gehou is, is spesiale melding gemaak van Davel se jare lange deelname en dat hy ondanks die lang siekbed steeds bereid is om op die bestuur te dien sodra hy genoegsaam herstel het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'